"Hulle sê..."
Wie is ons?
Wat sê die wet?
Die religiedebat
Probleme by skole
Ons help graag
Die Vrese van Ons Vaders
Inligting - lees hier
Interaktief - neem deel
Skakel ons
Dokumente
Skakels
ENGLISH
   
 


(Bygewerk 23 Oktober 2009)

Toelaatbare godsdiensbeoefening, -inskerping en -onderrig ("godsdiensaktiwiteite") word duidelik omskryf in ons landswette. Hiervolgens word godsdiensbeoefening by openbare skole wel onder voorwaardes toegelaat, maar vele skole in Suid Afrika, en veral openbare Afrikaanse skole,  ignoreer of omseil die tersaaklike wetgewing.

Die kern van ons argumente is dat wederregtelike godsdiensaktiwiteite in openbare skole onder meer:

  • Inbraak maak op individue se vryhede, veral die van ontvanklike kinders en hul ouers.
  • Staatsgesubsideerde instellings en belastinggeld gebruik word vir evangeslisasie van kinders terwyl hulle nie onder hulle ouers se toesig is nie.
  • Voorgeskrewe leerplanne en hulpmiddels soos handboeke verdraai, verskraal en aangepas word om kinders opsetlik te indoktrineer of onkundig te hou, veral rakende godsdienste en wêreldbeskouings van Suid-Afrika en die wêreld, ons gedeelde menslikheid, politiek, geskiedenis, geografie, biologie en wetenskap in die algemeen.

Die AVB ondersteun ouers waar vergrype voorkom.

Artikel 15 van die Grondwet staan sentraal tot die godsdiens-in-skole debat. Daarin staan:

15 Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening
(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.
(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits-
  (a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;
  (b) dit op billike grondslag geskied; en
  (c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.
(3) (a) Hierdie artikel belet nie wetgewing wat erkenning verleen aan-
       (i) huwelike wat aangegaan is kragtens enige tradisie, of 'n stelsel van godsdiens-,
           persone- of familiereg nie; of
       (ii) stelsels van persone- en familiereg kragtens enige tradisie, of wat nagevolg word
           deur persone wat 'n besondere godsdiens aanhang nie.
    (b) Erkenning ingevolge paragraaf (a) moet met hierdie artikel en die ander bepalings
         van die Grondwet bestaanbaar wees.

Dit is belangrik om in 15.1 op te let dat godsdiens saam en gelykwaardig met gewete, denke, oortuiging en mening genoem word. Aangesien ʼn skool nie geag kan word om ʼn gewete, denke of mening te hê nie (hoe sou ʼn redelike mens dit kon bepaal?), kan geen skool hieronder aanspraak maak dat hy as instansie (of regspersoon) die reg op vryheid van godsdiens het nie. Die onderskeie individue waaruit die skool bestaan het daardie vryhede, maar nie die skool as instansie nie. ʼn Meerderheid bepaal ook nie die aard van die groep nie – waar die meerderheid skoliere voel hulle hoef nie skool by te woon nie bepaal dit nie die mening van die skool as geheel nie.

Mens sou verder uit hoofde van artikel 36 (Beperking van Regte) kon aantoon dat ʼn skool wat ʼn voorkeur geloof sou voorstaan, die individuele skoliere en leerkragte se regte sal inperk.

Artikel 15.2 voorsien vryheid van godsdiensbeoefening by staatsondersteunde instellings, insluitend openbare skole, onderhewig aan die opvolgende reëls. Artikel 15.2.a stel duidelik die voorwaarde dat aan die reëls van die tersaaklike openbare gesag voldoen moet word, en aangesien die Onderwysdepartement die verteenwoordigende openbare gesag van openbare skole in staatseiendom is, is die reëls wat deur daardie Departement gemaak is, van toepassing. Dit is dan hier waar die Nasionale Beleid rakende Religie in Opvoeding (kortweg hierna verwys as die NBRO) van toepassing gemaak word.

Artikel 15.2.b word meer volledig omskryf in die NBRO. Artikel 15.2.c, die vrywillige bywoning van godsdiensbeoefening, is egter afdwingbaar nog voor die Nasionale Beleid ter sprake kom. Hiervolgens mag skole byvoorbeeld nie tydens klastyd aan die begin of einde van die dag oor ʼn interkomstelsel aan klasse ʼn gebed doen nie, aangesien elkeen van die skoliere nie dan vrywillig en sonder druk daaraan deelneem nie, en klastyd verpligtend is. (Wat wel geldig sou wees is om onmiddellik NA die lui van de laaste klok so ʼn gebed te doen, en skoliere toe te laat om vrywillig langer te bly om daaraan deel te neem). Sulke vorme van godsdiensbeoefening moet verder die verskeidenheid gelowe teenwoordig in die skool, in ag neem. Die verantwoordelikheid om die samestelling van die skool se oortuigings vas te stel en ʼn billike wyse te vind om die aard en karakter van alle vorme van godsdiensbeoefening by ʼn skool daarvolgens te bepaal, word aangespreek in die Wet op Beheerliggame.

Aangesien 15.2.a die Nasionale Beleid van toepassing maak, is die volgende (onder andere) van toepassing op openbare skole in openbare eiendom (eie vertaling):

Beskerming van burgers (insluitend skoliere, leerkragte en ander werknemers) teen godsdienstige diskriminasie en dwang.

Godsdienstige individue en groepe moet verseker word van hulle reg op vryheid van enige staatsinmenging rakende hulle vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. Aangesien ʼn openbare skool ʼn instrument van die staat is mag dit nie gebruik word om individue se regte in te perk nie.

Die NBRO dek die onderskeie aspekte van godsdienste-opvoeding (religion education), godsdiensinskerping (religious instruction) en godsdiensbeoefening (religious observances), en is van toepassing op alle openbare skole.

Burgers het die reg om op hulle eie onkoste onafhanklike skole te stig, insluitend godsdienstige skole.

Godsdienste-opvoeding, met gemete uitkomste, is die verantwoordelikheid van die skool, en sal die oordrag en leer van die religieë van die wêreld, met spesifieke aandag aan die religieë van Suid-Afrika, insluit, en sal voldoende klem plaas op waardes en morele opvoeding. (Daar kan egter nie aanspraak gemaak word dat ʼn spesifieke geloof die beste stel waardes verteenwoordig nie).

Belydende of sektariese vorme van godsdiensinskerping is ongepas in openbare skole in ʼn veelgodsdienstige en demokratiese gemeenskap. As instellings met ʼn mandaat om die hele gemeenskap te dien moet openbare skole verhinder dat ʼn spesifieke geloof, of ʼn beperkte aantal gelowe, wat sektariese of besondere belange bevorder, voorkeur kry.

Skole moet ‘n algemene (sosiale, intellektuele, emosionele, gedrags-, organisatoriese en strukturele) omgewing skep wat ʼn gevoel van aanvaarding, beskerming en respek vir skoliere van verskillende waardes, kulturele agtergronde en godsdienstige tradisies bied.

Skole moet verseker dat alle skoliere, ongeag ras, geloofsbelydenis, geslagsvoorkeur, gestremdheid, taal, geslag of klas, welkom, emosioneel beskut en gewaardeer voel deur godsdienstige en sekulêre waardes in ʼn oop opvoedkundige omgewing te onderrig.

Die hersiene Kurrikulum 2005 beskryf geletterdheid as insluitend kulturele geletterdheid, etiese geletterdheid en godsdiensgeletterdheid. Hierdie bevoegdhede word omsluit in die uitkoms-bepalings en metingstandaarde van die leerplan gemeet, en is verpligtend vir alle leerlinge.

Godsdienste-opvoeding moet getoets, geëksamineer, en beraam word deur dieselfde metodes wat in ander Leerareas gebruik word.

Godsdiensinskerping (religious instruction)

Godsdiensinskerping sluit in onderrig in ʼn spesifieke geloof of godsdiens, met die doel om aanhang van daardie geloof of godsdiens te bevorder. Godsdiensinskerping is hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die huis, die gesin en die godsdiensgemeenskap, en meer moet gedoen word om hierdie rol buite die skool te versterk. Godsdiensinskerping sal in meeste gevalle deur geestelikes (predikante) of ander persone wat deur geloofsgemeenskappe bemagtig is, verskaf word.

Skoolonderrig is soortverskillend van godsdiensonderrig wat deur ouers, kerke en ander privaatinstansies wat nie ʼn instrument van die staat is nie, verskaf word.

Godsdiensinskerping mag nie deel wees van die formele skoolprogram soos saamgestel in die nasionale leerplan nie. Skole word egter aangemoedig om die gebruik van hulle fasiliteite vir sulke programme beskikbaar te stel op ʼn wyse wat nie die opvoedkundige voorneme van die skool onderbreek of daarvan afbreuk doen nie.

Waar godsdiensbeoefening as ʼn amptelike deel van die skooldag gereël word, moet dit die multigodsdienstige samestelling van die land in ʼn geskikte wyse weerspieël.

Waar die skeiding van skoliere oorweeg word moet die skool die impak van groepdruk op kinders, en die negatiewe invloed en onwilligheid van kinders om as “anders” gekenmerk te word, oorweeg en versag word.

Openbare skole mag nie die godsdiensvryhede van skoliere en onderwysers skend deur godsdiens-eenvormigheid op ʼn skoolgemeenskap met uiteenlopende godsdienste af te dwing nie. Waar godsdiensbeoefening in skoolbyeenkomste ingesluit word mag skoliere op gronde van gewetensbesware verskoon word om die godsdiensbeoefeninggedeelte by te woon, en moet regverdige reëlings vir hierdie skoliere getref word.

Aangesien die staat nie ʼn godsdiensorganisasie, teologiese liggaam of tussen-godsdienstige forum is nie, kan die staat nie onredelike toegang tot die gebruik van sy hulpbronne toelaat om enige spesifieke godsdiens of godsdienste te bevorder nie. Die staat moet gelykheid van aansien rakende godsdiens en godsdienstige of sekulêre oortuigings in al sy publieke instellings handhaaf, insluitend sy openbare skole.

Skole het ʼn andersoortige verantwoordelikheid om geleenthede vir onderrig in en leer van godsdiensdiversiteit en ons gedeelde menslikheid te voorsien. Die NBRO handhaaf die beginsels van ʼn samewerkende model vir verhoudings tussen godsdiens en die staat deur grondwetlike onpartydigheid in die formele aktiwiteite van die skool, maar deur vrywillige interaksie buite die formele aktiwiteite aan te moedig.

Definisies:

Godsdienste-opvoeding skryf ʼn stel leerplan-uitkomste voor wat uitspel wat ʼn skolier moet weet rakende religie.

Godsdiensbeoefening is daardie aktiwiteite en gedrag wat die sienswyse, oortuigings en verbintenis van ʼn spesifieke godsdiens erken, en kan byeenkomste van aanhangers, gebedgeleenthede, drag en dieet insluit.

Godsdiensinskerping verwys na ʼn program van onderrig wat ten doel het om inligting rakende ʼn spesifieke stel godsdienstige oortuigings oor te dra met die doel om aanhang daarvan te bevorder.

Die Wet op Beheerliggame gee ʼn skool se beheerliggaam onder andere die bevoegdheid om ʼn skool se toelatings- en godsdiensbeleide op te stel.

Die beheerliggaam word deur die Skolewet verplig om die toelatingsbeleid van die skool op te stel. Die toelatingsbeleid mag nie onregverdiglik diskrimineer op gronde van geslag, ras, godsdiens, taal of sosiale stand (rykdom, inkomste of beroep) nie. Die toelatingsbeleid mag geen manier gebruik om enige leerling(e) by ʼn skool uit te sluit nie; skole word byvoorbeeld nie toegelaat om leerlinge met die oog op toelating te toets nie.

Die beheerliggaam moet die godsdiensbeleid in lyn met die Grondwet en ander toepaslike wette van die land (insluitend die NBRO soos voorgeskryf deur artikel 15.2.a van die Grondwet) opstel. Die beleid mag nie onregverdiglik diskrimineer teen enige religie of enige persoon nie en moet alle religieë gelykwaardig hanteer. Godsdiensbeoefening moet billik wees en moet vrylik en vrywillig geskied. Dit beteken dat nog die beheerliggaam nog enige persoon in die skool enige lid van die skool kan forseer of onder druk plaas om aan ʼn godsdiensbeoefening deel te neem nie.

Die Skolewet is van toepassing op ʼn verskeidenheid aspekte insluitend onderrig, dissipline en lyfstraf.

Die Wet op Beheerliggame, die Skolewet en die NBRO is onderhewig aan die Grondwet, wat altyd voorkeur kry.

Uit bogenoemde kan die volgende algemene stellings gemaak word:

Die Staat erken gelowe en die positiewe invloed wat religie kan hê, maar het nie self 'n voorkeurgeloof nie en laat nie staatsinstellings (soos openbare opvoeding) toe om een geloof bo 'n ander te verhef nie. Volgens ons Grondwet is alle oortuigings, gelowe en wêreldbeelde gelyk voor die wet. Dit is anders as die oorheersing van Protestantisme tydens ons voor-1994 bestel. Dit beteken ook dat hofuistprake van voor die Grondwet (1996) en die Religiebeleid (2003) nie altyd tersaaklik is nie.

Privaatskole en openbare skole op privaatgrond geniet meer vryhede as openbare skole op openbare gronde. Laasgenoemde is die skole waaroor hierdie debat handel. Gemeenskappe mag privaatskole stig wat hulleself befonds, en sulke skole mag meer spesifieke religiebeleide opstel. Hulle regte is egter steeds nie onbeperk nie - hulle mag byvoorbeeld nie tug-beleide opstel wat die beperking op lyfstraf oorskry nie.

Openbare skole moet alle leerders uit hulle omgewing ewe welkom, beskerm en menswaardig laat voel. Dit is slegs moontlik indien die skool elke leerling se redelike oortuigings respekteer en vir almal ewe belangrik laat voel.

Elkeen het 'n reg tot vryheid van gewete, religie, denke, oortuiging ("belief") en mening (art. 15.1). Hierdie regte is van toepassing op individue voor die reg, en geld nie vir instellings nie - net so min as wat 'n supermark 'n gewete of mening kan hê kan 'n skool 'n geloof hê.

Skole mag nie onregmatig teen aansoeke (van leerlinge of onderwysers) diskrimineer nie, en mag dus nie adverteer vir onderwysers wat "die knie buig voor God" nie.

Die mag van die meerderheid mag nie die regte van die minderheid of individu inperk nie. Soos Nelson Mandela in 1994 gesê het, geen groep in Suid Afrika sal ooit weer 'n ander groep onderdruk nie. Vir skole om dus voor te gee dat hulle aan 'n sektariese oortuiging voorkeur mag gee omrede die meeste ouers daardie siening deel mag tot verantwoording geroep word. Die Grondwet beskerm juis die redelike individu teen meerderheidsoorheersing. Selfs Pastafarians mag nou onverhinderd hulle geloof in die openbaar uitleef.

Skoolbeheerliggame geniet wye regte, maar nie vrye regte nie. Regte van individue kan nie met regte van beheerliggame verwar word nie. Ouers (soos alle individue) geniet eweneens wye regte onder ons liberale demokratiese bestel, maar ook nie vrye regte nie. Net soos beheerliggame mag hulle byvoorbeeld nie aan skole voorskryf om hulle kinders op te voed op wyses wat teenstrydig is met die beginsels van die Grondwet nie. Sien byvoorbeeld die uitspraak van die Grondwethof in die saak Christian Education South Africa v Minister of Education van Augustus 2000.

Beheerliggame mag (Grondwet artikel 15.2.a) godsdiensbeleide van skole binne die raamwerk van die tersaaklike openbare gesag opstel, dws binne die raamwerk van die Nasionale Beleid wat deur die onderwysdepartement opgestel is. 'n Skool se beheerliggaam is nie 'n openbare gesag nie.

Sommige meen dat die Nasionale Beleid ongrondwetlik is. Dit is vir beswaardes om te poog om die Nasionale Beleid ongrondwetlik te bewys, maar totdat dit gebeur is die Beleid deel van ons wetgewing, en skole wat teenstrydig daarmee optree doen dit wederregtelik.

Dit is skole se plig om kinders van Graad O af rakende die basiese kenmerke van verskeie religieë te onderrig, met klem on SA religieë. Dit is die ouers, kerke en ander vrywillige instansies buite die openbare skole se voorreg om kinders in religie te indoktrineer. Opvoeding verskaf deur openbare skole is soortverskillend hiervan. (Terloops, die O van Graad O staan vir Ontvangs - dit is Grade R (vir Reception) in Engels).

Baie is van mening dat morele verval, gebrek aan dissipline, enkelouergesinne en vele ander verskynsels 'n groter behoefte skep vir godsdiensbeoefening in skole. Hierdie argumente is waaghalsig en ongegrond. Daarby kan skole nie verantwoordleik gehou word om oplossings te bied vir elke gebrek in 'n gemeenskap nie. Skole moet opvoed, nie voog nie. As ouers nie by magte is om hulle kinders te dissiplineer, indoktrineer of waardes te leer nie moet die ouers blameer word, nie die skole/regering/ateïste/aardverwarming nie.

Godsdiensaktiwiteite (religious observances) word wel deur die Beleid op skoolterreine toegelaat en selfs aangemoedig, maar slegs buite kurrikulumtyd en slegs met vrywillige deelname van skoliere. Bid en Bybellees in klastyd van openbare skole is byvoorbeeld onwettig. Skoolhoofde is welkom om op hulle onregmatighede te roem maar sal uiteindelik aangespreek mag word.

Dit is skole se plig om skoliere van die verskeidenheid kulture in Suid-Afrika bewus te maak en onbevooroordeeld te onderrig, veral in die vak Lewensoriëntering, en vanaf Graad 1. Daar is reeds uitstekende handleidings hiervoor beskikbaar, vir skoliere en onderwysers.

Openbare mening kan nie grondwetlike regspleging bepaal nie. Regters oorweeg 'n saak se meriete op grond van die tersaaklike wetgewing en bewyse voor die hof. Hierdie saak is reeds aangespreek in 'n uitspraak (Makwanyane-saak) van die Grondwethof

Let op dat hierdie saak nie vlamvat in die Engelse pers nie, ten spyte van herhaalde pogings (van ander, nie ons nie). Dit blyk hoofsaaklik sekere Afrikaanssprekendes te wees wat sukkel met die aanvaarding van die regmatige vryhede van ander, gelykheid en openbare kritiek. Ons hoop van harte dat hierdie situasie mettertyd sal verander, soos dit reeds vir regte van vrouens, gestremdes en (sluk!) gays gebeur het.

Die onderskeie wetgewings kan deur ons Skakels-bladsy bekom word.