"Hulle sê..."
Wie is ons?
Wat sê die wet?
Die religiedebat
Probleme by skole
Ons help graag
Die Vrese van Ons Vaders
Inligting - lees hier
Interaktief - neem deel
Skakel ons
Dokumente
Skakels
ENGLISH
   
 


(Vir hulp met aksies teen onregmatige optredes in openbare skole kies asseblief die blad Ons help graag van die kieslys links. Vir regsargumente, kies Wat sê die wet?)

Vrydenke gaan oor baie meer as skoolonderrig, maar die godsdiens-in-skoledebat is die tema wat die land in 2009 aan die praat (en dink?) gekry het.

Ons ondersteun Suid-Afrika se wette wat betrekking het op skoolonderrig, insluitend die Grondwet, die skolewet, die wet op beheerliggame en die Onderwysdepartement se Nasionale Beleid rakende Religie in Onderrig*. Dit is veral laasgenoemde wat ons wil sien alle openbare skole moet implementeer, sodat:

  • almal godsdiensbeoefening op 'n billike en vrywillige wyse buite klastyd toelaat, 
  • skoliere van alle oortuigings gelykmatig gerespekteer word en welkom voel,
  • kinders respek, begrip en verdraagsaamheid teenoor ander kan aanleer,
  • godsdienste-onderrig volgens die voorgeskrewe leerplan aangebied word,
  • geen ander leerplanne (soos die van biologie) opsetlik verskraal word nie, en
  • alle staatskole godsdiens-neutraal (maar nie anti-godsdienstig) sal wees.  

Sommige openbare skole ignoreer veral die voorskrifte rakende godsdienste-onderrig en godsdiensbeoefening**, soms moedswillig en met openlike ondersteuning van ouers en organisasies. Van die skole gaan voort met die Calvinistiese*** gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat 'n ras- of geloofsgebaseerde elitisme**** bevorder en daardeur (hetsy met opset of uit onkunde) skoliere se wêreldbegrip verarm*****. Staatshulpbronne word gebruik om geloofsapartheid te bevorder, waar voorkeur verleen word aan een geloofsoortuiging (gewoonlik Protestantisme of Christen Nasionalisme). Hier moet andersdenkendes met skoolhoofde en beheerrade onderhandel vir aparte beregtiging, moet hulle weer (soos in die "goeie ou dae" van apartheid) eenkant sit terwyl vir die konformerende meerderheid gebid en gepreek word, of word ouers aangeraai om elders opvoeding te soek.

Hierdie webwerf gun almal die geleentheid om meer te wete te kom van die aard van die geskil en te volg hoe die debat verloop. Dit bied ook die geleentheid aan diegene wat in skole tenagekom word om met ons te skakel om te help om ongeruimdhede uit die weg te ruim.

___________________________________________________________________________

                                           2007 in Suid-Afrika
                                           Dis nou veg, vlug of vrek
                                           maar wat maak die boere?
                                                   Die boere trek.
                                           Dis optrek, dwarstrek of wegtrek
                                           maar laat ek jou sê:
                                                  Ons sal moet vingertrek.
                                                                           - Attie Koekemoer
___________________________________________________________________________

* soos na verwys in ons Grondwet, klousule 15.2.a.
** Hierdie wette kan afgelaai word deur ons Skakels-bladsy en kennis daarvan is nodig om die debat volledig te verstaan.
*** verstrengeling van staat en religie.
**** een groep (gewoonlik "Christene") is beter as 'n ander (al die ander "dwaalleringe", selfs die van "vals" Christene).
***** leerplanne (bv oor politiek en biologie) word by godsdiens-agendas (voorkeur aan Bybelse literalisme) aangepas, en nog 'n geslag kinders word onkundig gehou (en wonder later hoekom ander groepe voorkeur kry in die werksplek).

Geloofsapartheid kom voor waar die meerderheid se geloofsoortuiging (gewoonlik 'n vorm van Protestantisme, baiemaal van die sogenaamde evangeliese, fundamentalistiese of charismatiese weergawes) as die "regte" een verkondig word, en enige blootstelling van kinders aan ander "dwaalleringe" (enige ander dogma, insluitend ander Christenoortuigings) skep dan kwansuis 'n geleentheid vir "Satan" (waaroor ernstige meningsverskille bestaan) om kinders te verlei. Kritici (insluitend ons) word maklik blameer van "heidense" (en "verskuilde") agendas en sameswering met "satan", of as die Antichris uitgekryt. So 'n anti-intellektuele (en baiemaal anti-wetenskaplike) houding is tekenend van 'n politieke teologie waar voltydse bekeringsaktiwiteite (ook in klastyd) verdedig word ter wille van die behoud van een of ander magsideaal.